Archive for the 'Staff news' Category

CANSA Relay For Life: Ons was daar!

ASL_2Die Helderberg het van 2 tot 3 Maart 2013 sy eerste CANSA Relay For Life gehou en ons by Aucamp Scholtz Lubbe het met oorgawe daaraan deelgeneem.

CANSA Relay For Life bied ‘n geleentheid vir die gemeenskap om op ‘n besondere wyse deel te neem aan die stryd teen kanker en diegene te eer wat deur kanker geraak is.

Dis ‘n prettige deurnag-spanbyeenkoms wat bewusmaking van kanker bevorder en noodsaaklike fondse genereer om kanker te bestry. Tydens die byeenkoms onderneem spanne van 10 tot 15 vriende, bure, families of werkskollegas dat, vir 12 ure aaneen, ten minste een van die spanlede om ‘n baan sal loop om sodoende te simboliseer dat kanker nooit “slaap” nie. Spanne kamp oornag rondom die baan en geniet vermaak, pret en ‘n feestelike atmosfeer.

ASL het twee spanne ingeskryf en die uitmuntende spangees was aansteeklik. Ons het saam-saam om die baan gestap en daar was natuurlik ‘n hele paar fikse spanlede wat gedraf het. Die spanne was baie gretig om aan die pajamarondte, hoëhakskoenrondte, die agteruitstaprondte, die sokkierondte en die “musical chairs” deel te neem. Die musiek het die spangees die hele nag lank hoog gehou.

‘n Groot pluimpie aan een van ons spanlede wat dwarsdeur die nag gestap het en ‘n totale afstand van 52 km afgelê het. Voorwaar ‘n prestasie vir iemand wat self ‘n kankerlyer is en daagliks ‘n stryd daarteen voer!

Dit was vir ons ‘n voorreg en ‘n belewenis om aan hierdie wêreldwye gebeurtenis deel te neem en, te midde van die prettigheid, geliefdes en bekendes wat nie meer met ons is nie te onthou en ook dankbaarheid te ervaar oor diegene wat ‘n tweede kans gekry het in die stryd teen kanker.

ASL_2a

Ons sien met afwagting uit na die 2014 CANSA Relay for Life!

Vir meer inligting besoek: http://www.relayforlife.co.za

ASL_2b

Advertisements

Personeelnuus

Nuwe aanstellings

Ons verwelkom graag die volgende nuwelinge wat onlangs by ons aangesluit het:

Megan Daniels (Korporatiewe Beheerbeampte)

Megan het aan Cloetesville Hoërskool gematrikuleer en in 2004 ‘n kursus in Kantooradministrasie aan die JCT Rekenaar-opleidingsentrum voltooi. Van 2004 tot 2009 het sy as administratiewe klerk by onder andere die Universiteit van Stellenbosch en Visser Kapperer de Bruin Argitekte gewerk. In November 2009 het sy na Smith en Assosiate in Stellenbosch verskuif waar sy ook as Korporatiewe Beheerbeampte gewerk het totdat sy by ASL aangesluit het. Megan is getroud en het twee jong dogters wat op Stellenbosch skoolgaan.

Francois de Waal (Belastingnakomingsbestuurder)

Francois is van Bellville afkomstig en het aan Hoërskool DF Malan gematrikuleer. Daarna het hy Koste- en Bestuursrekeningkunde aan die Kaapse Technikon studeer. Die afgelope agt jaar het hy onder andere in die Belastingnakomingsafdelings van nou Mazars en PKF in Kaapstad, en BDO in Johannesburg, gewerk. Hy het onlangs die Hoër Diploma in Belasting aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Francois speel graag krieket en gholf in sy vrye tyd en is baie bly om terug te keer na die skone Kaap.

Nuwe verantwoordelikhede in die kantoor

Marisa Viljoen wat in die Korporatiewe Beheerafdeling gewerk het, se verantwoordelikhede is uitgebrei om nou ook met debiteure-administrasie te help.

Karina Roberts, wat betrokke was by ons interne finansies, is voortaan primêr in die Kleinsake-afdeling werksaam en sal verantwoordelik wees vir boekhouding vir ons kliënte tot op proefbalansvlak.

Ons wens hul alles van die beste toe in hul nuwe rolle en vertrou dat hulle nog baie jare by ons sal wees.

ASL_4Diensverlating

Na byna vier jaar van getroue diens verlaat Annemarie Smith ons om ‘n nuwe loopbaan in die avontuur- en toerismebedryf te volg. Ons wens haar alle sterkte toe en vertrou dat sy ook van hierdie nuwe uitdaging ‘n sukses sal maak.

Studie-ondersteuning en -prestasies

Aucamp Scholtz Lubbe se verbintenis tot die lewering van professionele dienste van topgehalte is grootliks afhanklik van die kundigheid en bedrewenheid van ons personeel. Om hierdie rede, maar ook omdat ons besondere waarde heg aan persoonlike groei en beroepstevredenheid, bied ons ‘n werksomgewing wat personeel aanspoor om akademiese en beroepsgerigte kwalifikasies te verwerf.

Ons glo dat aktiewe ondersteuning en aanmoediging in die daaglikse werksituasie, asook die ruim studieverlofvoordele wat ons bied, grootliks bygedra het tot die studieprestasies van ons personeel oor die afgelope klompie jare.

ASL_5

Uitslae vir 2012 waar ons met ‘n 100% slaagsyfer gespog het, asook baie goeie uitslae gedurende die eerste kwartaal van 2013, het ons weer eens met trots en dankbaarheid vervul. Hartlike gelukwense en ‘n “mooi so!” aan die volgende personeellede wat met besondere sukses ‘n verskeidenheid van eksamens afgelê of kwalifikasies verwerf het op pad na hul professionele kwalifikasies in die SAIGR-, SAIPA- en CIMA-studierigtings:

  • Cherilee Potgieter
  • Danie van Zyl
  • Deon van Zyl
  • Dewald Gerber
  • Francois Kritzinger
  • Gerhard Bester
  • Gustav Bessinge
  • Jana Haasbroek
  • John-Ross Hunter
  • Malan Botha
  • Michelle van der Merwe
  • Nicole Lubbe
  • Stephan Smit
  • Sumare Joubert

Baie geluk ook aan Belita Human wat haar professionele CIMA-kwalifikasie as geoktrooieerde bestuursrekenmeester verwerf het.

Ons wens al ons studerende personeel sterkte toe met hul studies in 2013.

Mag julle die uitstekende resultate van 2012 oortref!

ASL – Aanhouwen Gholfdag 2013

ASL_6

Die jaarlikse ASL-Aanhouwen Gholfdag is vanjaar op Donderdag 14 Maart op die Strand Gholfbaan gehou. Ons was geseënd met perfekte sonskyn en ‘n windstil dag. Daar is met groot entoesiasme voorberei en Aanhouwen se mense het fluks gehelp om alles vir hierdie groot dag op hul kalender, reg te kry. Soos in die verlede was dit weer ‘n vol baan en ons is besonder dankbaar dat soveel vierballe ingeskryf het.

Die spelers kon getuig van ‘n baie lekker dag se gholf en het daarna die ete, die prysuitdeling (waar hulle almal pryse ontvang het) en die veiling geniet. Ons hartlike dank aan al die borge en donateurs wat hierdie jaarlikse instelling baie getrou en ruimhartig ondersteun. Aanhouwen se netto opbrengs vir die dag was ongeveer R280 000 – ‘n uitsonderlike prestasie gegewe die huidige ekonomiese omstandighede. Ons plaas graag hieronder ‘n lys van al die persone en instansies wat finansieel bygedra het om die geleentheid moontlik te maak.

Ons wil graag vir ons eie gholfspan, Arnold Scholtz, Jaco van Straaten, Cecil Mulligan en Ivan Theron, baie dankie sê vir hul pragtige spangees die dag op die baan en hulle terselfdertyd gelukwens dat hulle nie hierdie jaar die “sagieprys” gekry het nie! Dankie ook aan Ceri-Anne Hill, Gerrit Nieuwoudt, Sarel Watkins en Lenita van der Merwe wat ASL die dag by die eerste putjie verteenwoordig het en die dames van Aanhouwen met die aand se verrigtinge bygestaan het om te verseker dat alles vlot verloop.

Dit was vir ons ‘n besondere voorreg om vir die agtste agtereenvolgende jaar as hoofborg met Aanhouwen en hul gholfdag geassosieer te wees. Ons sien met afwagting uit na die 2014-gholfdag en glo dat dit weer eens ‘n hoogtepunt op die gholfspelers se jaarprogram sal wees.

ASL_6a

Personeelnuus

ASL_ElsaDiensverlating

Na byna vyf jaar van getroue diens en entoesiastiese deelname aan die werk en aktiwiteite van die firma, verlaat Elsa Benn ons om ‘n nuwe beroepsrigting te volg.

Sy begin in April as Rekenmeester by Golf Data op Somerset-Wes werk. Ons beste wense vergesel haar en ons glo dat sy van die nuwe uitdaging ‘n groot sukses sal maak.

Verloof geraak

Cecil Mulligan en Michelle van der Merwe het op Kersdag 2012 op Mosselbaai verloof geraak. Hulle gaan DV op 20 April 2013 naby Albertinia in die huwelik tree en hul dan op Somerset-Wes kom vestig. Ons wens hulle sterkte toe met al die troureëlings wat getref moet word.

‘n Baba in die gesin

Arnold en Magda het op 25 Januarie 2013 die trotse ouers van nog ‘n seuntjie geword. Ons is seker dat klein Jacques vir hulle vele jare van vreugde sal verskaf en wens die gesin net die mooiste toe op die lewenspad vorentoe.

Nuwe personeel

ASL_Nuwe personeel

Alicia Viljoen (Ouditbestuurder)

Alicia het die graad BRek in 2008 aan die Universiteit van Stellenbosch, en BRek Hons in 2010 aan UNISA verwerf. Sy het haar klerkskap in 2012 by Greenwoods voltooi waarna sy haar by Aucamp Scholtz Lubbe aangesluit het as ouditbestuurder. Alicia se passie is kook en bak en sy eksperimenteer graag met nuwe resepte. Sy glo in ‘n gesonde lewensstyl en neem deel aan padwedlope en geniet die natuur.

Gerhard Bester (SAIGR-klerk)

Gerhard is van Swellendam afkomstig. Hy het sy BRek asook sy BRek Hons aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Hy is lief vir sport en speel self gholf, krieket, tennis en muurbal. Verder is hy lief vir braai, om sosiaal met vriende te verkeer en om goeie flieks te kyk. Gerhard het in Januarie sy Eerste Kwalifiserende Eksamen geskryf en ons hou saam met hom duim vas vir ‘n positiewe uitslag.

Jacques Potgieter (SAIPR-klerk)

Jacques is afkomstig van Jeffreysbaai in die Oos-Kaap en het sy hoërskoolopleiding aan die Hoërskool Nico Malan op Humansdorp voltooi. Hy het daarna ‘n BComRek aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit in Port Elizabeth verwerf. Hy is verloof aan Suzanne Bezuidenhout, ‘n dosent aan die Universiteit van Stellenbosch, en hulle trou DV op 21 September vanjaar. Jacques is ‘n kranige WP-ondersteuner en gebruik sy vrye tyd verder om flieks te kyk en na goeie musiek te luister. Na sy mening kan mens nooit genoeg Johnny Cash CD’s besit nie!

Janeréz Lentoor (SAIGR-klerk)

Janeréz is oorspronklik van Queenstown in die Oos-Kaap, maar Ficksburg in die Vrystaat was die afgelope 20 jaar haar tuiste. Sy was die jongste en enigste meisie in ‘n huishouding met vier kinders. Sy het aan die Hoërskool Ficksburg gematrikuleer en het daarna BRek (GR-rigting) aan die Universiteit van Pretoria behaal. Sy beoog om vanjaar die BCompt Hons aan UNISA te voltooi. Janeréz bak graag en geniet dit ook om ‘n blokkiesraaisel of twee te voltooi.

Lenita van der Merwe (SAIPR-klerk)

Lenita het op ‘n plaas net buite Riebeek-Kasteel groot geword en aan die Hugenote Hoërskool op Wellington gematrikuleer. Na matriek het sy na Stellenbosch verhuis waar sy die graad BCom (Bestuursrekeningkunde) in 2012 aan die US verwerf het. Sy is avontuurlustig en hou van alle watersport. Verder geniet sy dit om op hul familieplaas uit te help en tyd saam met haar vriende deur te bring.

Lihan Badenhorst (SAIPR-klerk)

Lihan Badenhorst is op George gebore waar hy aan die Hoërskool Outeniqua gematrikuleer het. Hy het in 2010 die graad BCom Rek en in 2011 sy Honneursgraad aan die Noordwes Universiteit op Potchefstroom verwerf. Lihan studeer tans vir ‘n Meestersgraad in die Rekeningkunde. Hy is in Desember 2012 getroud waarná hy en sy eggenote van Vanderbijlpark na die Strand verhuis het. Lihan is ‘n ondersteuner van Suid-Afrikaanse rugby en krieket en besoek ook gereeld die gimnasium.

Marica Martin (SAIPR-klerk)

Marica is van Moorreesburg afkomstig en het in 2008 daar aan die Hoërskool Dirkie Uys gematrikuleer. Sy het aan die Noordwes Universiteit op Potchefstroom gestudeer waar sy in 2011 die graad BCom (Bestuursrekeningkunde) verwerf en in 2012 die BCom(FinRek)(Hons) voltooi het. Hierdie trotse Puk geniet dit om in haar vrye tyd tennis en muurbal te speel en ook om rustig ‘n boek te lees.

Michelle van der Merwe (Ouditsenior)

Dit is met vreugde dat ons Michelle in ons geledere terug verwelkom. Michelle is gebore en getoë op Mosselbaai en het haar BCompt in 2007 aan UNISA verwerf. In 2009 slaag sy die BCompt Hons, ook aan UNISA. Sy het haar SAIGR-klerkskap in 2012 hier by Aucamp Scholtz Lubbe voltooi waarna sy ‘n lang werkverposing geneem het om haar voor te berei vir die SAIGR se Eerste Kwalifiserende Eksamen in Januarie 2013. Michelle het verlede Desember aan Cecil Mulligan (een van ons ouditbestuurders) verloof geraak en hulle trou DV in April vanjaar.

Sarel Watkins (SAIPR-klerk)

Sarel het op Bethlehem in die Oos-Vrystaat groot geword waar hy aan die Hoërskool Voortrekker gematrikuleer het. Ná sy skoolloopbaan het hy aan die Noordwes Universiteit op Potchefstroom gestudeer waar hy in 2012 sy BCom (Bestuursrekeningkunde) behaal het. Sy stokperdjies sluit in gholfspeel, visvang en lees, en in sy beskeie opinie is die Sharks die beste rugbyspan ter wêreld.

Huidige personeel | Current Staff

Dit is moontlik dat u soms slegs per telefoon of e-pos met van ons personeellede kontak kan maak. In belang van die lewering van ‘n persoonlike diens, sluit ons hierin fotos van ons huidige personeel.

It is possible that your contact with some of our staff members might sometimes be restricted to telephone or email. In the interest of providing a personal service, we include photos of our current staff.

ASL_Huidige personeel

Movember – maand van die snorre

snorre

Die manlike personeel van ons firma het pas weer hul deel gedoen ten bate van die bestryding van daardie kankers wat spesifiek die manlike geslag aantas.  Gedurende November het ons, as deel van die wêreldwye Movember-beweging se aksies in hierdie verband, snorre gegroei  om sodoende ons ondersteuning te toon en geld in te samel vir programme wat deur Movember en die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) bedryf word. Ons het daarin geslaag om R6 744 in te samel en glo dat, hoewel dit maar ‘n druppel in die emmer is, elke druppel tel om hierdie grootse poging se invloed te laat geld.

Kyk gerus www.movember.com vir meer inligting oor hierdie inisiatief.

Nuus uit personeelgeledere

Dit is altyd vir ons lekker om inligting oor personeel met ons kliënte te deel, gesien die feit dat u gereeld met hulle kontak het.

Ons glo dat u ook saam met ons hartseer is as individue wat u leer ken het ons diens verlaat, maar dat u ook geïnteresseerd is in die nuwe aanstellings wat ons maak.

Nuut op die toneel
mariskaMariska Bloemhof  het op 1 November as Ontvangsdame by ons aangesluit.  Sy het die afgelope ses jaar in die spa- en skoonheids-bedryf gewerk as konsultant, terapeut en administratiewe bestuurder.  Sy was vier jaar in die Sanctuary-groep by onder andere die Twaalf Apostels Hotel en in Mosambiek betrokke.  Sy beskik oor ‘n magdom kennis en ervaring van kliënte-diens.  Ons  vertrou dat haar dienstyd by ons vir haar en vir ons kliënte ‘n besonder aangename ervaring sal wees.

In Januarie 2013 begin die volgende personeel by ons werk:
Cecil Mulligan (Ouditbestuurder) wat aan die einde van 2010 sy klerkskap by ons voltooi het, keer terug na ASL nadat hy ‘n jaar en ‘n half op die Jersey-eilande  vir ‘n groot ouditeursfirma gewerk het. Hy het sy BRek graad in 2006 aan die Noordwes-Universiteit op Potchefstroom voltooi waarna hy na Somerset-Wes verhuis het om sy SAIGR-klerkskap by BGR Aucamp Scholtz (nou Aucamp Scholtz Lubbe) te kom doen. Cecil het in 2008 ‘n BRekHons aan UNISA verwerf en, na suksesvolle voltooiing van die SAIGR-raadseksamens, in 2011 as Geoktrooieerde Rekenmeester geregistreer.

Ivan Theron (Ouditsenior)  het sy klerkskap in 2009 by Griesel Nel  in Pretoria voltooi.  Hy het tydens sy klerkskap sy BRek aan UNISA verwerf en is tans besig met BRekHons, ook aan UNISA.

Joanie Viviers (Professionele Assistent) het in 2007 haar BRekLLB aan die Universiteit van Stellenbosch behaal en daarna in 2007 ‘n BRekHons aan UNISA. Sy het in 2010 haar SAIGR-klerkskap by LDP op Stellenbosch en in Februarie 2012 haar regsklerkskap by Cluver Markotter op Stellenbosch voltooi.  Sy kom na ASL van PWC in Century City waar sy tans as Forensiese Ouditeur werksaam is.

Personeel bly by ons aan
Dit is vir ons aangenaam om aan te kondig dat twee van ons leerlingrekenmeesters en ‘n ouditsenior wie se kontrak tot einde geloop het, besluit het om volgende jaar by ons aan te bly na die voltooiing van hulkontrakte aan die einde van 2012. Ons glo hierdie ontwikkeling is nie net vir ons nie maar ook vir ons kliënte  bemoedigend aangesien dit kontinuïteit van bestaande kliënteverhoudinge verseker.

Corlia van der Merwe en Francois Kritzinger gaan in die ouditafdeling werk en Sumaré Joubert in die kleinsake-afdeling. Dit is vir ons duidelik dat hulle elkeen oor besondere eienskappe beskik wat waarde sal toevoeg tot die huidige spanne en sal bydra tot die voortgesette uitbouing van ons uitmuntende reputasie binne die industrie.

Die ooievaar kuier
Karina en William Roberts het op 25 Oktober 2012 ‘n seun, Paul, ryker geword en Johan, ‘n boetie. Ons is seker dat klein Paul du Toit Roberts vele jare van plesier en vreugde vir hulle sal bring.

Monica Mncube word in Desember 2012 ‘n baba ryker. Ons wens haar alles van die beste toe met die bevalling en in die komende maande.

In die eg verbind
Raubie Brink is op 29 September 2012 met Leandrie getroud en hulle het hulle daarna op Somerset-Wes gevestig. Ons beste wense vergesel hulle op hul huwelikspad.

Verloof geraak
Elizna de Villiers het aan Rudi Hattingh verloof geraak en hulle tree op 27 April 2013 in die huwelik. Hulle gaan hulle daarna op Secunda vestig. Ons wens hulle alle sterkte en voorspoed toe met die troureëlings.

Personeel wat ons verlaat
In die hedendaagse arbeidsmark is personeel baie beweeglik en bemarkbaar en dus is daar ook van ons personeel wat soms groener weivelde soek of deur persoonlike omstandighede genoodsaak word om ons diens te verlaat.

Die volgende persone het gedurende die afgelope paar maande uit ons diens getree of gaan ons aan die einde van 2012 verlaat.  Ons hartlike dank aan elkeen vir hul bydrae in die firma gedurende hul dienstydperk.

Deon van Zyl het sy SAIGR-klerkskap gedurende Augustus voltooi en nadat hy hom eers voltyds aan sy studies toegewy het, het hy onlangs as ‘n Finansiële beplanner in die Kaap begin werk.

Michelle van der Merwe het ook haar SAIGR-klerkskap gedurende Augustus voltooi en het met studieverlof gegaan om haar studies af te handel voordat sy begin om ‘n betrekking te soek.

Shirley Dampies het September haar diens na twee jaar by ASL beëindig om in die Kaap te gaan werk as ‘n persoonlike assistent.

Johan Coetzee het besluit om terug te trek na Namibië en het gedurende November by ‘n ouditfirma in Windhoek begin werk. Windhoek is veel nader aan sy ouerhuis en bied ook vir hom die geleentheid om ondervinding in die mynbedryf op te doen.

Raubie Brink  gaan hom in 2013 by een van ons kliënte, Southern Fruit Growers, aansluit as Finansiële Kontroleerder.

Elsa Benn verlaat ons om nuwe beroepsrigtings te gaan ondersoek.

Elizna de Villiers voltooi haar leerkontrak en verhuis in 2013 na Secunda om by haar verloofde aan te sluit.

Sean Webb voltooi einde Desember sy SAIGR-klerkskap en gaan hom daarna op sy passie, motors, toespits.

Ons wens elkeen van hulle alles van die beste toe vir die toekoms en vertrou dat hulle sukses en voorspoed sal geniet.

Joey Fiford het aan die einde van November afgetree en ons glo ons kliënte sal die verwelkomende glimlag by Ontvangs en die vriendelike stem oor die telefoon, baie mis.  Ons dank haar vir haar bydrae in die firma en wens haar voorspoed en seën toe in haar aftrede.

Boet Lubbe bedank as direkteur

boetBoet Lubbe het besluit om met ingang Januarie 2013 te bedank as ‘n direkteur van Aucamp Scholtz Lubbe. Ons is teleurgesteld dat ons Boet nie langer as ‘n mededirekteur  gaan hê nie maar kan met dankbaarheid meld dat hy steeds, as konsultant, spesialis belastingwerk vir ons en ons kliënte sal verrig en dat sy waardevolle kennis en ervaring dus nie vir ons verlore sal wees nie.

Boet se besluit is grootliks beïnvloed deur die noodsaak om meer permanent by hul groeiende familiebesigheid betrokke  te raak. Hy gaan ook op ‘n meer permanente basis as finansiële adviseur vir van ons kliënte optree.

Ons bedank Boet vir die waardevolle bydrae wat hy gedurende sy dienstydperk in die firma gelewer het, nie net op direksievlak nie. Ons wens hom sukses en veel seën toe vir die pad vorentoe.

Boet Lubbe resigns as director

boetBoet Lubbe has decided to resign as a director of Aucamp Scholtz Lubbe with effect from January 2013.

While we are disappointed that we will no longer have him as a co-director, we are grateful that he will continue to act as a specialist tax consultant to us and our clients. His valuable knowledge and experience will therefore not be lost to us.

Boet’s decision was largely influenced by the need to become more involved in their growing family business. He will also act as financial advisor to some of our clients on a more permanent basis.

We thank Boet for the valuable contribution he made during his period of service in the firm, not only at director level. We wish him success and many blessings on the road ahead.

Loslitdag-plakkerverkope: ‘n Terugblik

Noem die naam “ouditeur” of “rekenmeester” en mens sien gewoonlik in jou geestesoog ‘n prentjie van ‘n valerige mannetjie of vroutjie, met ‘n bril, weggekruip agter stapels papiere en wetboeke.  Reg?

Wel, as jy vanaf 30 Augustus tot 7 September tussen 07h00 en 08h00 oor een van drie besige verkeersligkruisings in die Helderbergarea gery het, sal jy nou ‘n veel ander beeld van ‘n ouditeur of rekenmeester hê.  Die geleentheid was ons jaarlikse Loslitdag-fondsinsamelingsveldtog in samewerking met Green Spot Marketing en Aanhouwen, ‘n sentrum vir die versorging van verstandelik gestremde volwassenes, geleë in Somerset-Wes. Vir ses dae het ‘n klompie van ons die koue soggens trotseer en die spreekwoord “let your hair down” baie letterlik en met groot entoesiasme toegepas deur die preutse kantoorkapsels te verruil vir helderkleurige pruike en ander interessante hooftooisels, met slegs een gemeenskaplike doel voor oë: Doen wat ookal nodig is om ‘n Loslitdagplakker te verkoop. Vir elke plakker wat verkoop is, is R4 geskenk aan Aanhouwen, ‘n versorgingsentrum wat ons by ASL baie na aan die hart lê en wat ‘n ongelooflike onbaatsugtige diens lewer aan die baie spesiale mense wat daagliks op ‘n konstruktiewe wyse by die sentrum besig gehou word.

Wat maak jy as jy met jou Loslitdagplakkers en muntblikkie in die hand, in stortreën na ‘n stilstaande voertuig draf wat by ‘n rooi verkeerslig staan en die oomblik wat jy jou hand uitsteek om die bestuurder se aandag te trek, die verkeerslig na groen oorslaan en die persoon wegry? Raak moedeloos? Raak ongeduldig? Nooit gesien nie! Ons praat hier van mense wat vele Finrek-eksamens in hulle studentedae oorleef het en die term “vasbyt” met groot sukses kan toepas. Jy vee eenvoudig jou natgereënde spookasem-kapseltjie uit jou oë, gee ‘n ekstra-groot Colgate-glimlag en kry onmiddellik die volgende “slagoffer” in visier.

Was ons suksesvol met ons veldtog?  Vergeleke met die vorige drie jaar se verkope het ons hierdie jaar alle verwagtinge oortref en ‘n allemintige 1074 Loslitdagplakkers verkoop! Hierdie prestasie is gevier met ‘n worsbroodjiebraai op Loslitdag waar ons op die verrigtinge kon reflekteer.  Twee emosies het kop en skouers bo die res uitgestaan: dankbaarheid en nederigheid; omdat ons deel kon wees van so ‘n besielende veldtog waar jy ‘n bietjie van jou tyd kon opoffer om ‘n verskil te maak vir persone wat elke dag, ten spyte van groot struikelblokke, die lewe met passie en met ywer aangryp.

Ons wil graag almal wat bygedra het, hetsy kliënte of nie, hartlik bedank vir hulle ruimhartige ondersteuning van ons veldtog. Dit was vir ons verblydend om te sien dat waar baie mense huiwerig ‘n silwer muntstuk in die blikkie gooi, ons kliënte sonder huiwering ‘n noot of meer deur die gleufie  forseer.  Daarvoor sê ons weer eens baie dankie!

Ons sien julle volgende jaar weer by die verkeersligkruisings in die Helderberg! Tot dan verdwyn ons weer agter die stapels papiere, wetboeke en fatsoenlike kantoorkapseltjies.


Follow ASL on Twitter

Enter your email address to follow this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 10 other followers

Advertisements