Toelaes en Byvoordele: Deel 1

really-need-auto-insuranceReistoelae teenoor die reg op gebruik van ’n besigheidsvoertuig: Wat is die verskil?

Die Inkomstebelastingwet definieer ʼn reistoelae as ʼn toelae, en die reg  van gebruik van ‘n motorvoertuig as ‘n belasbare byvoordeel. Alhoewel hierdie terme, toelae en byvoordeel, nou verwant is, is die belastinghantering van elk verskillend.

Reistoelae

‘n Reistoelae word normaalweg aan ‘n werknemer betaal om die werknemer te kompenseer vir die gebruik van sy/haar eie voertuig in die uitvoering van sy/haar pligte (bv. ‘n verkoopsverteenwoordiger wat kliënte moet besoek om ‘n werkgewer se produkte te bemark). Hierdie toelae word gewoonlik bereken volgens die afstand wat die werknemer in die uitvoering van sy/haar pligte sal reis, die waarde van die werknemer se voertuig en ook die onderhoudskoste en brandstofverbruik van die voertuig. Dit kan óf ‘n vasgestelde bedrag óf ‘n vergoedende toelaag wees wat gebaseer word op die afstand (tarief per kilometer) wat die persoon afgelê het.

Die werkgewer is verplig om werknemersbelasting te bereken op 80% van die reistoelae wat aan die werknemer betaal word tensy hy oortuig is dat die werknemer meer as 80% van die totale afstand vir besigheidsdoeleindes afgelê het, in welke geval die werknemersbelasting op slegs 20% van die reistoelae bereken hoef te word.

Die werknemer kan op sy/haar beurt, met die indiening van sy/haar persoonlike belastingopgawe ‘n aftrekking eis teen die reistoelaag ontvang vir die gedeelte van besigheidskilometers in die loop van die jaar afgelê. Die aftrekking word bereken deur die werklike koste van die voertuig (slytasie, brandstof en onderhoud) proporsioneel toe te deel tussen die besigheids- en privaatkilometers, of deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (“SAID”) se kosteskaal toe te pas, welke die voordeligste is.

Die reg  van gebruik van ‘n motorvoertuig

Anders as ‘n reistoelaag vind die reg  van gebruik van ‘n motorvoertuig plaas wanneer ‘n motorvoertuig wat aan die werkgewer behoort aan die werknemer toegeken word vir sy/haar gebruik, hetsy vir privaatdoeleindes of vir privaat- en besigheidsdoeleindes. Hierdie is ‘n voorbeeld van ‘n byvoordeel wat nie in kontant uitbetaal word nie maar wat belastinggevolge vir die werknemer inhou in die sin dat die werknemer belas word op die privaatgedeelte van die gebruik van die voertuig. Werknemersbelasting word dus maandeliks bereken op 80% van die kontantekwivalent van die reg van gebruik of op 20% daarvan indien die werkgewer oortuig is dat meer as 80% van die afstand wat met die motor afgelê is, vir besigheidsdoeleindes was.

Die waarde wat op die privaatgebruik van ‘n motorvoertuig geplaas word is 3.5% (of 3.25% indien die motorvoertuig onderworpe is aan ‘n onderhoudsplan) van die ‘vasgestelde waarde’ van die voertuig vir elke maand of gedeelte van ‘n maand waartydens die werknemer geregtig was om die voertuig te gebruik.[1] Die vasgestelde waarde van ‘n voertuig word algemeen bereken as die kontantwaarde by aankoop van die voertuig (uitgesluit finansieringskoste). Daar moet op gelet word dat die vasgestelde waarde BTW op die voertuig insluit. Daar is wel ‘n vermindering indien die werknemer die gebruiksreg verkry van ‘n voertuig wat deur die werkgewer besit word maar nie voorheen aan iemand toegeken was nie. Hierdie waardevermindering word bereken op 15% van die vasgestelde bedrag per jaar volgens die verminderendesaldo-metode vir elke voltooide jaar wat die voertuig nie aan ‘n werknemer toegeken was nie.

Die kontantekwivalent (die 3.5% of 3.25%) kan ook verminder word met die bedrag wat die werknemer bydra ten opsigte van die gebruik van die voertuig, uitgesluit lisensie-, onderhouds- en brandstofkostes. (Byvoorbeeld: Die vasgestelde waarde van ‘n voertuig sonder ‘n onderhoudsplan beloop R114 000, BTW ingesluit. Die werkgewer vereis van die werknemer om R1 500 per maand by te dra vir gebruik van die voertuig. Dus is die maandelikse kontantekwivalent van die byvoordeel R2 490 [(R114 000 x 3.5%) – R1 500]).

‘n Werknemer wat die reg van gebruik van ‘n motorvoertuig geniet is ook geregtig om met die indiening van sy/haar belastingopgawe ‘n aftrekking te eis ten opsigte van die besigheidskilometers wat gedurende die jaar afgelê is. Die aftrekking word bereken deur die kontantekwivalent van die byvoordeel te vermenigvuldig met die besigheidskilometers en te deel deur die totale kilometers. (Byvoorbeeld: Die belasbare byvoordeel vir die jaar het R50 000 beloop, die besigheidskilometers was 12 500 en die totale kilometers gereis was 18 000. Dus is die aftrekking wat geëis kan word R34 722.22 [R50 000 x 12 500km ÷ 18 000km]).

Watter een van die twee metodes is die voordeligste uit ‘n belastingoogpunt?

Dit is ongelukkig ‘n baie moeilike vraag om te beantwoord aangesien dit afhang van verskeie faktore, nl.:

  • Die waarde van die voertuig;
  • Die totale afstand afgelê;
  • Die verhouding tussen privaat- en besigheidskilometers;
  • Wie die reistoelaag ontvang / reg van gebruik geniet;
  • In watter mate die werkgewer ‘n bydrae maak tot brandstof, onderhoud en versekering van die voertuig; en
  • Of die voertuig ‘n afleweringsvoertuig is in welke geval BTW geëis kan word.

Daarom moet elke geval individueel oorweeg word om die gunstigste keuse vir sowel die werkgewer as die werknemer vas te stel. U is welkom om vir Jaco van Straaten by jaco@asl.co.za of by 021 840 1600 te kontak vir verdere besonderhede in verband met toelaes en byvoordele.

Belangrik om te onthou

  • Die afstand tussen ‘n belastingpligte se woning en werksplek word deur die SAID as privaatkilometers beskou en kan nie as aftrekking teen ‘n reistoelaag of ‘n vermindering in die reg van gebruik, geëis word nie.
  • Vir ‘n werknemer om besigheidsritte vir belasting te kan aftrek moet volledige rekords in die vorm van ‘n logboek met besonderhede van  besigheidsritte en die odometerlesing van die voertuig, bygehou word.
  • Stawende dokumentasie van brandstof- en onderhoudsuitgawes moet gehou word aangesien dit moontlik meer voordelig kan wees as om die kosteskaal van die SAID te gebruik.
  • Waar die werknemer die reg van gebruik van meer as een voertuig geniet is daar verdere oorwegings en belastingimplikasies wat nie in hierdie artikel bespreek is nie. Kontak ons gerus vir meer inligting hieroor.

[1] Silke: Suid-Afrikaanse Inkomstebelasting 2013 (LexisNexis)


Follow ASL on Twitter

Enter your email address to follow this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 9 other followers


%d bloggers like this: