Personeelnuus

Nuwe aanstellings

Ons verwelkom graag die volgende nuwelinge wat onlangs by ons aangesluit het:

Megan Daniels (Korporatiewe Beheerbeampte)

Megan het aan Cloetesville Hoërskool gematrikuleer en in 2004 ‘n kursus in Kantooradministrasie aan die JCT Rekenaar-opleidingsentrum voltooi. Van 2004 tot 2009 het sy as administratiewe klerk by onder andere die Universiteit van Stellenbosch en Visser Kapperer de Bruin Argitekte gewerk. In November 2009 het sy na Smith en Assosiate in Stellenbosch verskuif waar sy ook as Korporatiewe Beheerbeampte gewerk het totdat sy by ASL aangesluit het. Megan is getroud en het twee jong dogters wat op Stellenbosch skoolgaan.

Francois de Waal (Belastingnakomingsbestuurder)

Francois is van Bellville afkomstig en het aan Hoërskool DF Malan gematrikuleer. Daarna het hy Koste- en Bestuursrekeningkunde aan die Kaapse Technikon studeer. Die afgelope agt jaar het hy onder andere in die Belastingnakomingsafdelings van nou Mazars en PKF in Kaapstad, en BDO in Johannesburg, gewerk. Hy het onlangs die Hoër Diploma in Belasting aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Francois speel graag krieket en gholf in sy vrye tyd en is baie bly om terug te keer na die skone Kaap.

Nuwe verantwoordelikhede in die kantoor

Marisa Viljoen wat in die Korporatiewe Beheerafdeling gewerk het, se verantwoordelikhede is uitgebrei om nou ook met debiteure-administrasie te help.

Karina Roberts, wat betrokke was by ons interne finansies, is voortaan primêr in die Kleinsake-afdeling werksaam en sal verantwoordelik wees vir boekhouding vir ons kliënte tot op proefbalansvlak.

Ons wens hul alles van die beste toe in hul nuwe rolle en vertrou dat hulle nog baie jare by ons sal wees.

ASL_4Diensverlating

Na byna vier jaar van getroue diens verlaat Annemarie Smith ons om ‘n nuwe loopbaan in die avontuur- en toerismebedryf te volg. Ons wens haar alle sterkte toe en vertrou dat sy ook van hierdie nuwe uitdaging ‘n sukses sal maak.


Follow ASL on Twitter

Enter your email address to follow this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 9 other followers


%d bloggers like this: