CANSA Relay For Life: Ons was daar!

ASL_2Die Helderberg het van 2 tot 3 Maart 2013 sy eerste CANSA Relay For Life gehou en ons by Aucamp Scholtz Lubbe het met oorgawe daaraan deelgeneem.

CANSA Relay For Life bied ‘n geleentheid vir die gemeenskap om op ‘n besondere wyse deel te neem aan die stryd teen kanker en diegene te eer wat deur kanker geraak is.

Dis ‘n prettige deurnag-spanbyeenkoms wat bewusmaking van kanker bevorder en noodsaaklike fondse genereer om kanker te bestry. Tydens die byeenkoms onderneem spanne van 10 tot 15 vriende, bure, families of werkskollegas dat, vir 12 ure aaneen, ten minste een van die spanlede om ‘n baan sal loop om sodoende te simboliseer dat kanker nooit “slaap” nie. Spanne kamp oornag rondom die baan en geniet vermaak, pret en ‘n feestelike atmosfeer.

ASL het twee spanne ingeskryf en die uitmuntende spangees was aansteeklik. Ons het saam-saam om die baan gestap en daar was natuurlik ‘n hele paar fikse spanlede wat gedraf het. Die spanne was baie gretig om aan die pajamarondte, hoëhakskoenrondte, die agteruitstaprondte, die sokkierondte en die “musical chairs” deel te neem. Die musiek het die spangees die hele nag lank hoog gehou.

‘n Groot pluimpie aan een van ons spanlede wat dwarsdeur die nag gestap het en ‘n totale afstand van 52 km afgelê het. Voorwaar ‘n prestasie vir iemand wat self ‘n kankerlyer is en daagliks ‘n stryd daarteen voer!

Dit was vir ons ‘n voorreg en ‘n belewenis om aan hierdie wêreldwye gebeurtenis deel te neem en, te midde van die prettigheid, geliefdes en bekendes wat nie meer met ons is nie te onthou en ook dankbaarheid te ervaar oor diegene wat ‘n tweede kans gekry het in die stryd teen kanker.

ASL_2a

Ons sien met afwagting uit na die 2014 CANSA Relay for Life!

Vir meer inligting besoek: http://www.relayforlife.co.za

ASL_2b


Follow ASL on Twitter

Enter your email address to follow this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 9 other followers


%d bloggers like this: