Loslitdag-plakkerverkope: ‘n Terugblik

Noem die naam “ouditeur” of “rekenmeester” en mens sien gewoonlik in jou geestesoog ‘n prentjie van ‘n valerige mannetjie of vroutjie, met ‘n bril, weggekruip agter stapels papiere en wetboeke.  Reg?

Wel, as jy vanaf 30 Augustus tot 7 September tussen 07h00 en 08h00 oor een van drie besige verkeersligkruisings in die Helderbergarea gery het, sal jy nou ‘n veel ander beeld van ‘n ouditeur of rekenmeester hê.  Die geleentheid was ons jaarlikse Loslitdag-fondsinsamelingsveldtog in samewerking met Green Spot Marketing en Aanhouwen, ‘n sentrum vir die versorging van verstandelik gestremde volwassenes, geleë in Somerset-Wes. Vir ses dae het ‘n klompie van ons die koue soggens trotseer en die spreekwoord “let your hair down” baie letterlik en met groot entoesiasme toegepas deur die preutse kantoorkapsels te verruil vir helderkleurige pruike en ander interessante hooftooisels, met slegs een gemeenskaplike doel voor oë: Doen wat ookal nodig is om ‘n Loslitdagplakker te verkoop. Vir elke plakker wat verkoop is, is R4 geskenk aan Aanhouwen, ‘n versorgingsentrum wat ons by ASL baie na aan die hart lê en wat ‘n ongelooflike onbaatsugtige diens lewer aan die baie spesiale mense wat daagliks op ‘n konstruktiewe wyse by die sentrum besig gehou word.

Wat maak jy as jy met jou Loslitdagplakkers en muntblikkie in die hand, in stortreën na ‘n stilstaande voertuig draf wat by ‘n rooi verkeerslig staan en die oomblik wat jy jou hand uitsteek om die bestuurder se aandag te trek, die verkeerslig na groen oorslaan en die persoon wegry? Raak moedeloos? Raak ongeduldig? Nooit gesien nie! Ons praat hier van mense wat vele Finrek-eksamens in hulle studentedae oorleef het en die term “vasbyt” met groot sukses kan toepas. Jy vee eenvoudig jou natgereënde spookasem-kapseltjie uit jou oë, gee ‘n ekstra-groot Colgate-glimlag en kry onmiddellik die volgende “slagoffer” in visier.

Was ons suksesvol met ons veldtog?  Vergeleke met die vorige drie jaar se verkope het ons hierdie jaar alle verwagtinge oortref en ‘n allemintige 1074 Loslitdagplakkers verkoop! Hierdie prestasie is gevier met ‘n worsbroodjiebraai op Loslitdag waar ons op die verrigtinge kon reflekteer.  Twee emosies het kop en skouers bo die res uitgestaan: dankbaarheid en nederigheid; omdat ons deel kon wees van so ‘n besielende veldtog waar jy ‘n bietjie van jou tyd kon opoffer om ‘n verskil te maak vir persone wat elke dag, ten spyte van groot struikelblokke, die lewe met passie en met ywer aangryp.

Ons wil graag almal wat bygedra het, hetsy kliënte of nie, hartlik bedank vir hulle ruimhartige ondersteuning van ons veldtog. Dit was vir ons verblydend om te sien dat waar baie mense huiwerig ‘n silwer muntstuk in die blikkie gooi, ons kliënte sonder huiwering ‘n noot of meer deur die gleufie  forseer.  Daarvoor sê ons weer eens baie dankie!

Ons sien julle volgende jaar weer by die verkeersligkruisings in die Helderberg! Tot dan verdwyn ons weer agter die stapels papiere, wetboeke en fatsoenlike kantoorkapseltjies.

0 Responses to “Loslitdag-plakkerverkope: ‘n Terugblik”



  1. Leave a Comment

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s




Follow ASL on Twitter

Enter your email address to follow this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 9 other followers


%d bloggers like this: